
=====================================================================
'Ons baklei om Afrikaans relevant te hou' (AV 6:4)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


'Ons baklei om Afrikaans relevant te hou'

      In 1999 vier Radio Sonder Grense se aktualiteitsprogram Monitor sy 25ste bestaansjaar. Van 'n naprater het Monitor in vyf jaar 
gegroei tot 'n onafhanklike en dikwels omstrede program, s Chris Louw. Hy gee persoonlike indrukke.     DIE dag voor Andr Zaaiman namens 
123 dienspligtiges 'n verklaring uitgelees het oor waarom hulle nie bereid is om verder hul weermagverpligtinge vir P.W. Botha na te kom 
nie, het hy by my huis in Buitenkantstraat, Kaapstad, 'n draai kom maak. By my eetkamertafel het ons geskiedenisboeke deurgegaan om 
aanhalings te kry van Boere-krygers wat aanvanklik sterk gekant was teen Paul Kruger se oorlogsverklaring teen die Britse Ryk.

Andr wou die parallel trek tussen teenkanting van Afrikaners wat later helde in die Driejarige Oorlog sou word, en diegene wat nie meer 
bereid was om blanke bevoorregting te verskans ten koste van swart lewens nie. Daar was hoogs relevante aanhalings van veral genl. Koos de 
la Rey.

Dit was 1989. Andr was voorbladnuus oral in die wreld. Nie 'n takhaar of 'n pasifis wat weier om grens toe te gaan nie, maar 'n skoon 
geskeerde kaptein in die Burgermag wat fier en regop sy saak stel. Die internasionale impak was ongelooflik.

In daardie stadium was ek reeds saam met die Van Zyl Slabbert / Breyten Breytenbach-safari in Dakar, Senegal, om met ANC-lede te gesels. Ek 
het nie 'n vaste werk gehad nie -- dit was nie meer moontlik om my met die politiek van Die Vaderland te vereenselwig nie. Met 'n vrou en 
twee kinders om te onderhou, 'n huurhuis en 'n motor om te betaal, was my maagsenuwees voortdurend op 'n knop getrek. Ek moes leef van 
vryskut-artikels vanuit 'n perspektief wat vir Afrikaanse publikasies onaanvaarbaar was. Sonder enige sekuriteit, sonder 'n mediese fonds. 
(Dit was seker onafwendbaar dat juis in di omstandighede kanker by my gediagnoseer sou word. En moenie worry nie: ek het hel deurgegaan, 
en volkome herstel.)

My telefoon is afgeluister. 'n Private gesprek wat ek met Alan Boesak gehad het, is skaamteloos deur 'n lid van die veiligheidspolisie aan 
my herhaal.

'n Paar jaar later, in 1996, sit ek by die nuwe SAUK in 'n dissiplinre verhoor. Een vir een kom getuig bruin kollegas dat ek 'n rassis is. 
Ek het teen 'n (toevallig gekleurde) ondergeskikte opgetree wat in een nag 'n vriend van buite toegelaat het om R1 200 se private 
telefoonoproepe te maak. (Gemiddelde koste per telefoon per maand: R300.) Uiteindelik word ek -- die klaer in die saak wat die SAUK se 
belange probeer beskerm -- deur die drie lede van die tribunaal gedeeltelik skuldig bevind sonder dat enige klag teen my ingedien is.

Dit het drie maande se harde gevegte geverg om 'n amptelike brief van verskoning uit die SAUK-bestuur te wurg. Die paneel het hul magte 
heeltemal oorskry; die insinuasie in hul uitspraak dat ek rassistiese motiewe gehad het, word verwerp. Dankie dat ek die SAUK teen 
uitbuiting beskerm het.

In dieselfde tyd word ek oorval deur haatbriewe, doodsdreigemente en beskuldigings dat ek 'n lakei van die ANC is. Monitor, skryf 
"rubriekskrywer" Johan van Wyk in Die Volksblad, het die grootste vyand van die Afrikaner en die Afrikaanse taal geword. Terselfdertyd 
rassis en blanke verraaier.

Dit was in die stormagtige oorgangsjare van die destydse Afrikaanse Diens se aktualiteitsprogramme. In Radiopark -- vroer die Piet Meyer-
gebou -- is Afrikaanssprekendes uit totaal uiteenlopende agtergronde in een program saamgebondel (en die meeste van die "andersdenkendes" 
wat teen my sou draai, het ek self, doelbewus, aangestel ter wille van groter ewewig in ons verslaggewing). Baie van die wrewel kan 
teruggevoer word na 'n onvermo om professioneel mee te ding met blankes wat die voordeel van ervaring en meerdere tegniese kennis het.

Van die robuuste binnegevegte in Monitor en Spektrum se redaksie wis ons luisteraars niks. Wat hulle wel kon hoor, was die ander klank op 
die lug -- mense wat nie wit is nie, perspektiewe wat nie Nasionaal-gesind was nie, uitsprake wat nie die sakesektor bo die vakbonde 
bevoordeel het nie, deelnemers aan programme (van Kommuniste tot Moslems) wie se stemme nooit tevore gehoor is nie ...

Nuus, skryf ek in 'n artikel in Beeld, is belangriker as taal. By implikasie: Afrikaans bestaan in simbiose met Engels; Engels het die taal 
van die mag geword. Ons kan nie oor regeringsake verslag doen sonder om ons nuwe leiers se eie stemme te hoor nie. Radio is klank, en klank 
is emosie, nie blote vertaling nie. En per definisie is daardie stemme oorwegend Engels.

Die SAUK is 'n mikrokosmos van die algehele transformasie wat die land ondergaan. Soos wat Afrikaanssprekende verslaggewers bedank, word 
hulle vervang deur veral Africans. (Die swart aktualiteitsprogramme dra nou nog aan die bagasie van apartheid; hul begroting is steeds 
kleiner, hul mense minder, hul toegang tot nuus meer beperk.)

Dit raak moeiliker om sinvolle Afrikaanse bydraes uit die streke te ontvang. Afrikaanssprekende verslaggewers in die Parlement word na 
mindere stories gestuur; dikwels skarrel ons hier in Johannesburg rond om 'n ingeligte te kry om, in die afwesigheid van Afrikaanse 
verslaggewing, belangrike wendinge in die politiek aan ons luisteraars te verduidelik. My gesag eindig by die Monitor-span van 15; oor die 
300 verslaggewers landwyd het ek geen seggenskap nie.

Ons baklei -- in 'n idioom wat nou mode geword het -- ons gatte af om Afrikaans nog relevant te hou. Dit sluit in woordgevegte met ons nuwe 
bestuur wat so onsmaaklik is dat dit my soms laat twyfel of ek nog die volgende dag die moeite moet doen om in te kom kantoor toe.

Intussen word ek die teiken van kultuurorganisasies, van elke Afrikaanse koerant (met die uitsondering van Beeld), van dominees, van 
Broeders en van huisvroue. Daar is 'n algehele onvermo om die omvang van die revolusie in die land te verstaan. Dis nie die nuwe 
bewindhebbers wat die teiken van die aanvalle van frustrasie is nie, maar diegene in die voorste loopgrawe, wat Afrikaans nie net 
sentimenteel wil koester nie, maar dit deel van die nuwe Suid-Afrika wil maak ... In beskutting van die wit-beheerde Die Burger skryf 
Pieter Spaarwater ek het ges Monitor se aanbieders hoef nie meer Afrikaans magtig te wees nie. Die aantyging is te sotlik om my te 
verwerdig om myself te verdedig.

Maar ons luisteraars neem toe. In 1995, toe ek by Monitor begin werk het, het die program kwalik 300 000 luisteraars gehad. Vandag staan 
dit by 'n hele paar tien duisend oor die halfmiljoen. Saam met Spektrum, luister bykans een miljoen Afrikaanssprekendes deesdae daagliks na 
ons.

Ons vertel wat in die land gebeur -- in die verre Oos-Kaap, op die bende-geteisterde Kaapse Vlakte, in die uithoeke van Mpumalanga. Sonder 
agenda en sonder bymotief en sonder napraat. Soms in sukkel-Afrikaans, soms in mooi Afrikaans, soms in Anglisistiese Afrikaans, soms sommer 
in Engels.

Vroer vanjaar voer ons 'n onderhoud met my vriend Arrie Rossouw toe hy redakteur van Beeld word. Ek kry 'n oproep van Johan de Wet: wil 
ons nie iets doen oor die re-launching van Rapport nie? Die vorige redakteur van Rapport, Chris Moolman, het by geleentheid die telefoon in 
my oor neergegooi toe ek hom vra om aan 'n program deel te neem. Sy kortaf kommentaar: "Ek praat nie met jou soort nie."

Volksblad bel. Waarom praat ons net met Beeld en Rapport se nuwe redakteurs? Hulle het ook 'n nuwe man aan die stuur. Gaan kyk in julle 
argiewe, s ek; dis julle wat 'n vete teen ons voer. By Aardklop praat ons wel met die nuwe redakteur, nadat Die Volksblad die eerste keer 
sedert my bewindsaanvaarding vyf jaar tevore 'n positiewe berig oor Monitor plaas.

Lees in hierdie verslaggie net wat u wil. Wat my betref: Ek sien myself op my plasie by die Hartbeespoortdam loop, bedonnerd, graaf in die 
hand, gate aan die grawe vir nog en nog nuwe (inheemse) bome. Wat om my verander het, verstaan ek nie. Net dit, in my meer arrogante 
oomblikke: ek is Chris Louw, en ek is steeds hy. Chris Louw is uitvoerende regisseur van Monitor (6:30 vm. tot 8:30 vm.) en sy 
susterprogram, Spektrum (13:00 nm. tot 14:00 nm.) op RSG -- 100 tot 104 FM.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av649.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Desember 1999 /// Feeswense (AV 6:4) /// Gehegtheid aan taal moet opnuut 
geskep word. (AV 6:4) /// Bokke (AV 6:4) /// Afrikaans reik uit na ander gemeenskappe (AV 6:4) /// Hulle laat selfvertroue en aanleg blom 
(AV 6:4) /// Voorsitters (AV 6:4) /// Om saam te neem vir die 21ste eeu (AV 6:4) /// Berese en gelese webwerf (AV 6:4) /// 'Ons baklei om 
Afrikaans relevant te hou' (AV 6:4) /// Aanwins vir die tweedetaaldosent (AV 6:4) /// Ly die Afrikaanse letterkunde aan J2K? (AV 6:4) /// 
Afrikaans gaan met lus skool! (AV 6:4) /// Moedertaal doen flinke WWW (AV 6:4) /// 'n Kaapse skaap (AV 6:4) /// Regering en Taalklousule 
(AV 6:4) /// Die tas (AV 6:4) /// Dit gaan goed met die WAT (AV 6:4) /// Hier word woorde gevier (AV 6:4) /// Ver van die einde aan ons 
woorde (AV 6:4) /// Jong skrywers word besiel en geleer (AV 6:4) /// Afrikaans in Namibi: die voor- en teenspoed (AV 6:4) /// Slaggate vir 
Afrikaans op skool (AV 6:4) /// Te vet (AV 6:4) /// Afrikaans in spreekkamer en by siekbed (AV 6:4) /// Multikulturaliteit gaan groot rol 
speel (AV 6:4) /// Besoek aan Ratanga pretpark (AV 6:4) /// Afrikaanse taalkunde in Belgi bespreek (AV 6:4) /// Skep 'n ware paradys vir 
boeke! (AV 6:4) /// Die noodlot (AV 6:4) ///

